Vakansie Dienste en Spesiale Geleenthede

Neem Asseblief Kennis van die volgende:

Etes:

Elke sondag na die diens word daar etes te koop aangebied. Ondersteun ons asseblief.

Kaartjies sal by die kerk beskikbaar wees.

Kassette:

Kassette van alle dienste is beskikbaar indien u sou belangstel. Hier is 'n lys van bestaande kassette.

Preke:

Preke sal in teks formaat op aanvraag beskikbaar wees. Stuur e-pos of kontak die Skriba.

Alle aktiviteite sal op hierdie blad aangekondig word. Kom dus asseblief gereeld terug na hierdie blad.

Sondag Dienste

Inleiding: Elke mens kan verander!
1. Kies die lewe!
2. Begin met die einde in gedagte!
3. Doen belangrike dinge,
4. Doen aan ‘n ander
5. Luister voordat jy raadgee.
6. Elke deeltjie van die liggaam
7. Persoonlike vernuwing:

Woensdag Aand Kursusse

Persoonlike Heiligheid
NG Kerk Walvisbaai Noord - Hoofblad

"7 Habits of Highly Effective Christians"

Inleiding:

Elke mens kan verander!

Sondag 6 Desember 1998 om 09:00

Walvisbaai - Noord gemeente

Prediker: Welly du Toit

Elkeen wat effektief in God se koninkryk wil wees, moet veranderinge moet ondergaan. Daar is honderde veranderinge wat ons moet ondergaan. Party is stadig, ander is vinnig. God verander nie, maar ek en jy is nie God nie. As ek en jy meer en meer na die beeld van God wil wees, moet ons voortdurend verander. My denke, my gesindheid, my karakter, my hart moet verander. Ek het gewoontes wat in my in gegrafeer is weens sonde, kultuur, agtergrond, opvoeding ens. God wil alles wat nie volgens Sy wil is nie, verander sodat ek regtig kan lewe! Sodat ek aan die einde van my lewe saam met Jesus kan uitroep: Dit is volbring! Om dit te kan doen moet ons dikwels ons paradigma’s verander. Die manier waarop ek dinge sien moet verander. Hoe ek God sien, moet verander. Hoe ek die wêreld sien, moet verander? Watter dinge beinvloed my reaksies? Ons bestemming word bepaal deur ons karakter. Ons karakter word bepaal deur ons gewoontes. Ons gewoontes is gedragspatrone wat bepaal word deur ons denke. God moet my hart verander sodat ek nuut kan dink. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is."

JY KAN VERANDER!

Terug na Dienste

"7 Habits of Highly Effective Christians"

Nommer een:

Kies die lewe!

Sondag 6 Desember 1998 om 18:00

Walvisbaai - Noord gemeente

Prediker: Welly du Toit

"Ek is ‘n slagoffer van apartheid" of "Ek is ‘n slagoffer van regstellende aksie, daarom is ek wat ek is en is ek negatief". Iemand anders getuig: "Ek is verkrag, deur die kop geskiet en vir dood in die veld gegooi. Ek gaan nie dat iemand wat so laag gedaal het in die lewe, die res van my lewe vir my negatief maak nie. Ek dank die Here, ek is nie dood nie, ek leef! Ek kan nog ‘n ma wees vir my kinders al is ek nou blind. Ek wil steeds ‘n verskil maak in die lewe." Hierdie vrou het skole toegespreek oor ‘n positiewe ingesteldheid in die lewe. Sy het ten spyte van haar omstandighede gekies om steeds ‘n verskil te maak in die lewe. Ander mense sou gevul wees met haat en wraakgedagtes en onvergewensgesindheid. Die sal vir hulle ‘n las wees. Ons gaan almal deur moeilike omstandighede in die lewe, egskeiding, bankrotskap, in die rug steek deur ware vriende, ens. Jy kies nie altyd jou omstandighede nie. Jy kies wel hoe jy daarop gaan reageer. Kies om nie ‘n slagoffer van omstandighede te wees nie! Kies die lewe! "Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins."

JY KAN VERANDER!

Terug na Dienste

"7 Habits of Highly Effective Christians"

Nommer twee:

Begin met die einde in gedagte!

Sondag 13 Desember 1998 om 18:00

Walvisbaai - Noord gemeente

Prediker: Welly du Toit

Hoe sal jy voel as jy in ‘n vliegtuig sit, die loods begin praat en sê: "Welkom aan boord van vlug WVB 324. Maak asseblief u sitplekgordel vas, ons gaan binnekort opstyg maar ons weet nog nie waarheen nie. Die vliegtuig is vol brandstof so u kan gerus ontspan en die vlug saam met ons geniet." Baie mense lewe so. Hulle staan elke dag op, trek aan, borsel tande, eet mieliepap, gaan werk toe, kom huistoe, lees koerant, kyk TV, eet ‘n stukkie, gaan bad, lees ‘n stukkie Bybel, doen ‘n gebedjie en gaan slaap. Dit doen hulle dag in en dag uit, week in en week uit, maand in en maand uit, jaar in en jaar uit, "So what?" Daar is geen doel in die lewe nie. Hulle gebruik energie, geld, tyd, ywer, gawes en talente, persoonlikheid, ervaring en nog baie meer, net om maar aan en aan en aan te gaan sonder dat hulle regtig weet waarheen hulle oppad is. Is dit die lewe? Is dit nie eerder asemhaling nie? Is dit wat God vir jou bedoel het? Is daar nie iets groters vir jou in die lewe nie? Jy mors jou lewe want jy weet nie waarheen jy oppad is nie. Begin elke dag met die vraag: As vandag my laaste dag op aarde is, …?

JY KAN VERANDER!

Terug na Dienste

"7 Habits of Highly Effective Christians"

Nommer drie:

Doen belangrike dinge,

nie net dringende dinge nie.

Sondag 27 Desember 1998 om 09:00

Walvisbaai - Noord gemeente

Prediker: Welly du Toit

Ons is so besig om dringende goed eerste te doen terwyl ons nie by die belangrike goed uitkom nie. Die dringende goed vat soveel van my tyd, dat ek net nie tyd het vir die belangrike goed nie. Jy kan aan die einde van jou lewe agterkom dat jy so besig was in jou beroep, dat jou kinders intussen met hulle eie lewe voortgegaan het. Hoeveel keer het hulle nie begeer om net saam met pa en ma Monopolie te speel nie. Daar was nie tyd nie. Daar was te veel dringende dinge om te doen. Die kinders sê: "Pa en ma was nooit daar vir ons nie". Pa en ma sê: "Ons het ons lewe vir julle afgesloof om genoeg geld te maak sodat ons julle alles kon gee wat julle wou hê." Wat het gebeur? Pa en ma het al hulle tyd spandeer aan dit wat dringend was en sodoende nooit uitgekom by dit wat belangrik was nie. Suksesvolle mense is ook bereid om dinge te doen waarvan hulle nie hou nie, daarom dat hulle word wat hulle graag wil wees. Onsuksesvolle mense word nooit wat hulle graag wil wees nie, omdat hulle nie ook bereid is om te doen waarvan hulle nie hou nie. "Soek eers die Koninkryk van God en al die ander dinge sal vir jou toegevoeg word."

JY KAN VERANDER!

Terug na Dienste

"7 Habits of Highly Effective Christians"

Nommer vier:

Doen aan ‘n ander

soos jy wil dat ander aan jou moet doen.

Sondag 27 Desember 1998 om 18:00

Walvisbaai - Noord gemeente

Prediker: Welly du Toit

Vertroue is belangrik in verhoudinge tussen mense. Geen verhouding bestaan sonder vertroue nie. Daarom moet ek verander. As jy my nie gaan vertrou nie, sal daar nie vriendskap tussen ons wees nie. Elke mens het ‘n emosionele bankrekening. Ons maak daagliks deposito’s en ontrekkings as ons met mense in aanraking kom. Jesus gee ons die opdrag om mekaar lief te hê. Ek kan jou liefhê, sonder dat ek jou vertrou. As ek ‘n effektiewe verhouding met jou wil bou, moet ek ‘n vertroue deposito maak in jou emosionele bankrekening. Hoe maak ek ‘n deposito in jou emosionele bankrekening? Hou by wat jy sê of belowe, tree geloofwaardig op, wees iemand op wie ander kan staatmaak. Ek vertrou mense wat deposito’s gemaak het in my emosionele bankrekening uit hulle integriteit.

Doen aan ‘n ander, soos jy wil hê ander aan jou moet doen. In ‘n verhouding: laat iemand duidelik weet wat jou verwagtinge is. Demonstreer persoonlike integriteit. Maak eerlik verskoning wanneer jy so opgetree het dat iemand ‘n emosionele ontrekking gemaak het teenoor jou.

JY KAN VERANDER!

Terug na Dienste

"7 Habits of Highly Effective Christians"

Nommer vyf:

Luister voordat jy raadgee.

Donderdag 31 Desember 1998 om 23:00

Walvisbaai - Noord gemeente

Prediker: Welly du Toit

Spr.12:18 "Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê."

Ons is so gou om ander mense te oordeel en te veroodeel oor dinge wat hulle doen of nie doen nie, of maniere waarop hulle optree. Ons doen dit sonder dat ons regtig tyd gemaak het om te luister waarom hulle dit so doen. Miskien sal ons hulle optrede dan beter verstaan en in ons harte meer rustigheid hê oor hulle optrede. Ons wil so gou raadgee aan ander sonder dat ons regtig ‘n ander persoon se situasie ken en verstaan. Vir hom wat bereid is om na ‘n ander persoon te luister, sy raad sal die luisteraar graag volg. As iemand sien jy is bereid om te luister, maak hy sy deure vir jou wyd oop en aanvaar jou raad. Daarom: luister aandagtig en met groot geduld, voordat jy raad gee. Daarom dat die Vader ons twee ore gegee het en slegs een mond. Moenie ander oordeel vanuit jou verwysingraamwerk, sonder dat jy bereid is om in sy verwysingsraamwerk in te klim en na hom te luister, nie. Wees stadig om te praat en vinnig om te luister.

JY KAN VERANDER!

Terug na Dienste

"7 Habits of Highly Effective Christians"

Nommer ses:

Elke deeltjie van die liggaam

het ‘n bepaalde taak en is nodig.

Sondag 3 Januarie 1999 om 09:00

Walvisbaai - Noord gemeente

Prediker: Welly du Toit

Die diere het besluit hulle moet dringend iets doen om die probleme van die nuwe wêreld te oorkom. Die diere organiseer toe ‘n skool. Die vakke was, hardloop, klim, swem en vlieg. Om dit makliker te maak met al die administrasie, moes alle diere al die vakke neem. Die eend was briljant in swem. Hy het ook ‘n A+ gekry vir vlieg. Maar sy hardloop was pateties. Daarom is hy na skool gehou om ekstra klasse te kry in hardloop. Hulle het daarmee volgehou totdat die eend se voet so seer was, dat hy ook net gemiddeld was in swem. Die gemiddelde was goed want almal was gemiddeld. Daarom het niemand juis aandag gegee daaraan nie. Die haas het goed gedoen in hardloop, maar hy het ‘n senuwee ineenstorting gekry oor te veel swemklasse. Die eek-koringkie was briljant in klim. Maar hy het hom halfdood geval in die vlieg klasse. Die kraai was die swartskaap van al die diere. Hy het baie goed gedoen in klim klasse, maar hy het volgehou om op sy eie manier bo in die boom te kom. Hy het geweier om te swem. Die hond het skool gebank omdat hulle nie gate grawe ook as ‘n vak wou opneem nie. Samewerking! Om saam met mekaar te werk beteken dat ons meer effektief is. Ons het mekaar nodig. Jy kan ook saamwerk.

JY KAN VERANDER!

Terug na Dienste

"7 Habits of Highly Effective Christians"

Nommer sewe:

Persoonlike vernuwing:

Sondag 3 Januarie 1999 om 18:00

Walvisbaai - Noord gemeente

Prediker: Welly du Toit

Maak die byl skerp. As die byl stomp is, moet jy harder werk om die hout te kap. Die spoed van die lewe verwoes ons. Daar is nooit tyd om onsself op te skerp nie. Ons stop nooit lank genoeg om die byl van ons liggaam, siel en gees te verskerp nie. My lewe is die skerpkant van die byl. As ek nie tyd maak om die byl skerp te maak nie, sal ek myself uitbrand. Ons hoor nooit ‘n preek dat dit ‘n sonde is om nie persoonlike vernuwing gereeld te doen nie. Emosioneel, intellektueel, sosiaal, moet ek verskerp en vernuwe word. Daar is tye wat jy nie Bybel moet lees nie, maar moet speel met jou kinders. Fisies moet jy genoeg oefening kry om in goeie gesondheid toestand te bly. My gees siel en liggaam is al wat ek van God gekry het om vir Hom effektief te wees hier op aarde. Daarom moet ek tyd maak om myself te vernuwe. Ek moet selfs finansieel begroot om myself te vernuwe.

JY KAN VERANDER!

Terug na Dienste

Woensdag Aand Kursusse

PERSOONLIKE HEILIGHEID

Desember se Woensdag aande om 18:00 tot 19:30

‘n Reeks oor persoonlike heiligheid. Die kursus is ‘n video reeks deur Dr. Bruce Wilkenson van "Walk Thru the Bible". ‘n Fasiliteerder sal elke aand optree. Daar is ook nota’s en dagstukkies wat u elke aand kan saamneem om vir die volgende week deur te werk. Die nota’s sal N$30 kos. Dit is nie verpligtend dat jy nota’s neem nie. Jy kan die reeks gratis bywoon. Die nota’s is opsioneel vir die dieper delwers. Die video’s is in Engels. Elke byeenkoms word in die NGK Walvisbaai-Noord se konferensie kamer aangebied om 18:00 tot 19:30.

Woensdag 9 Desember:

Wie is nou regtig heilig?

Woensdag 16 Desember

Hoe word ek heilig?

Woensdag 23 Desember

Wat is my grootste sonde?

Woensdag 30 Desember

Hoe weerstaan ek versoeking?

Terug na Dienste