Die Stem van Suid-Afrika

Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee.
Deur ons vèr verlate vlaktes met die kreun van osewa.
Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika.

In die merg van ons gebeente, in ons hart en siel en gees,
In ons roem op ons verlede, in ons hoop op wat sal wees.
In ons wil en werk en wandel, van ons wieg tot aan ons graf.
Deel geen ander land ons liefde, trek geen ander trou ons aan.
Vaderland! ons sal die adel van jou naam met ere dra:
Waar en trou as Afrikaners - kinders van Suid-Afrika.

In die songloed van ons somer, in ons winternag se kou,
In die lente van ons liefde, in die lanfer van ons rou.
By die klink van huw'liks-klokies, by die kluit-klap op die kis.
Streel jou stem ons nooit verniet nie, weet jy waar jou kinders is.
Op jou roep seg ons nooit nee nie, seg ons altyd, altyd ja:
Om te lewe, om te sterwe - ja, ons kom, Suid-Afrika.

Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou.
Dat die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer:
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.

C.J. Langenhoven

Inhoudsopgawe